“Opkomende projekte”
Maak jou gereed vir ’n reis terug in tyd met Hartsbriewe – ’n middag deurdrenk met nostalgie, warmte en die sagte fluisteringe van liefde in al sy gedaantes.
Laat die klanke van Coenraad Rall se klavier jou dra na vervloë oomblikke, terwyl Hannes van Wyk, geliefde TV-aanbieder en akteur, jou op reis neem met ’n keur van briewe wat soos geheime in ’n ou laai gebêre was.
Hierdie Hartsbriewe – soms snaaks, soms hartseer, altyd opreg – vertel van verlore liefdes, tydlose familieherinneringe en daardie eenvoudige, kosbare vreugdes van die lewe.
Hartsbriewe is ’n huldeblyk aan alles wat ons harte sag maak en ons drome lewendig hou. Jy kan uitsien na ‘n middag vol nostalgiese stories, ‘n bietjie humor, ’n traan of twee… en ’n warm gevoel wat nog lank sal bly ná die laaste woorde gespreek en note gespeel is.
Vertonings:
1 Okt Potch – Aardklop Kunstefees
2 Okt Potch – Aardklop Kunstefees
7 Okt Stellenbosch Woordfees
10 Okt Stellenbosch Woordfees
Moet dit nie misloop nie
Hulle het ’n goeie show beplan, regtig, hulle’t gehoop om selfs vir ‘n prys genomineer te word. Maar die ou man vergeet heeltyd sy invalle en arme Magda moet net vure doodslaan. Eerlikwaar, die begin is bra flou, maar die middel is darem … oukei-erig. En die einde sal jou met stof tot nadenke los. Hopelik. Magda en Erhard gesels oor die kuns van die lewe, die fases van oudword; die jare wat ons in prentjies kan opsom en hoe ons met die verfpot in die hand staan. Tot die kwas opdroog.
Vertonings:
28 Augustus Hartbeespoort – NHSV Schoemansville
16 Sept Pretoria – Die Blou Hond
17 Sept Kathu – Hoërskool Kathu
18 Sept Kuruman – Hoërskool Kalahari
19 Sept Upington – Laerskool Oranje Noord
30 Sept Potch – Aardklop
11 Okt Kemptonpark – Emperor’s Palce
Sielskos
Sy spontaniteit, spitsvondingheid en sjarme maak van Hannes van Wyk ‘n baie gewilde en geliefde persoon en by damesoggende kan jy nie vir ‘n beter en meer inspirerende spreker vra nie.
In sy aanbieding en motiveringspraatjie “SIELSKOS” laat val hy die kollig op die vroue wat sy lewe aangeraak het, of wat hom aangryp en inspireer. Dit is ‘n gesprek vol deernis, humor en wysheid wat enige vrou se hart sal verbly. Hy raak aan mense se harte en emosies, maar sorg ook vir lekker lag en humor.
Dit is ‘n praatjie vir elke lid van die gesin en elkeen wat ‘n ma het, gehad het of selfs ‘n ma is, mans en vroue, moet hierdie boodskap hoor.
Vertonings:
30 Augustus Lambertsbaai – Bokkoms & Blomme Fees
26 Sept Bloemfontein – A & E Events
31 Okt Laingsburg – Karoo Landbou fees

