wie is hannes?
Kom ons begin by die begin.
Gebore op die plattelandse dorp Aliwal-Noord en ek moet eerlik sê niks het nog verander nie. ’n Mens kry baie keer die vraag: “ Hoe voel dit om bekend te wees?” My antwoord is dat dit na al die jare nog steeds vir my ’n moeilike vraag is, want ek beskou my regtig nie as bekend nie. Myns insiens doen ek maar net ’n werk wat my in die openbare oog plaas. Ek kan wel met groot dankbaarheid sê dat ek tot op hede ’n wonderlike loopbaan het.
Ek het drama studeer aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat en was een van 2 landwye studente wat in 1992 `n aanstelling gekry het as akteur by die permanente toneelgeselskappe of beter bekend as Streeksrade. In my geval SUKOVS ( die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje Vrystaat) Ek was dus bevoorreg om na my dramastudies onmiddellik permanent toneel te speel. Vir my was dit nooit ’n keuse om akteur te word nie. Dit was net altyd vandat ek ’n klein seuntjie was iets wat ek moes doen. Gelukkig het ek die ondersteuning van wonderlike ouers gehad. Al was daar nie baie geld nie en my ma-hulle min van ‘drama swot’ geweet het, het ma altyd gesê: “ My kind, ons sal ’n plan maak en jy moet gaan studeer wat jy wil. Dit is jou keuse.” Daarvoor kan ek nie genoeg dankie sê nie.
Die eerste paar jaar van my loopbaan het ek net verhoogwerk gedoen en geleer by soveel formidabele akteurs, regisseurs en teaterkenners soos Ernst Eloff, Jannie Gildenhuys, Wim Vorster, Wilna Snyman, Marga van Rooy,Pieter Brand, Louw Verwey en vele ander. Dit is hier waar ek die ‘kuns’ van teater begin leer het, maar ook van dissipline en harde werk.
My eerste televisie-optrede was `n klein rolletje in Manakwalanders en toe kort daarna een van die hoofrolle in Torings met Dawid Minnaar en Anna- Mart van der Merwe as my pa en ma. Gedurende die reeks het ek ook baie leiding en hulp gekry van liefste Elize Cawood en ons het baie goeie vriende geword.
Deur die jare was ek gelukkig om gereeld verhoogwerk en televisiewerk te doen en daar was soveel hoogtepunte. Ek dink aan verhoogwerk soos Griet skryf `n sprokie; Die Keiser, baie klugte en dramatiese rolle en ook eenmanstukke soos die onlangse Sê groete vir ma waarvan Sandra Prinsloo die regie hanteer het. Ek het vir 2 jaar deur die land daarmee getoer en (as ek mag sê) die kaartjies was oral uitverkoop.
Daar was ook deur die jare soveel fantastiese televisiewerk waarvan die 10 jaar wat ek Krynauw du Buisson in Egoli gespeel het een van die groot hoogtepunte was. Daar was ook `n hele paar rolprente en dan natuurlik my werk as onderhoudsvoerder, eers op Bravo en deesdae natuurlik Kwêla en Hannes aan Huis. Ek het egter jare gelede voor Egoli daarmee begin en het wonderlike kanse gehad en oorsee aangebied. Ek was ook bevoorrreg om die Special Olympics vanuit Connecticut, Amerika aan te bied. Daar was ook onderhoude met Nelson Mandela, Arnold Schwarzenegger, Naomi Campbell, Kate Moss, Tony Danza, Bon Jovi en vele ander internasionale persoonlikhede. My tyd by Kwêla is ook een van my hoogtepunte en ek het deur die jare die voorreg gehad om met honderde mense onderhoude te voer.
Ek glo dat ons in die vermaaklikheidsbedryf verskillende aspekte daarvan moet (probeer) bemeester. Dit is ook hoekom ek die boek Vroue na aan my hart in 20 17 die lig laat sien het… Ek het ook deur die jare baie regie gedoen en programme vervaardig, maar ek sal in my oë altyd eerstens akteur en aanbieder wees.
Onlangs het ek ook besluit om ’n bietjie my vlerke te sprei en met iets nuuts vorendag te kom. Dit is hoe die parfuumreeks en hemdereeks begin het. Klere en lekker ruik het my nog altyd na aan die hart gelê. Dit word bemark onder die handelsnaam THEATRE deur Hannes van Wyk.
As daar een ding is wat ek deur al die jare in die vermaaklikheidsbedryf geleer het, is dat hoe langer ’n mens iets doen, hoe meer kom jy agter hoe baie jy nog het om te leer… Ek glo ook dat nederigheid en harde werk wat ek by my liefste ma, Mariet van Wyk geleer het, jou ver kan bring…
REEKSE EN FILMS
Heelwat televisiereekse dra sy naam.
Uiteraard Egoli: Plek van Goud, Torings, Waterfront, Projek Dina, Boekklub, Magda Louw en films soos Indemnity en so meer.
VERHOOGWERK
Daar is heeltemal te veel om om te noem. Hannes was in die permanente geselskappe van SUKOVS en TRUK en het hoofrolle vertolk in onder meer Griet skryf `n sprokie en later Voor ek Vergeet saam met Amanda Strydom. Dan natuurlik die bekroonde eenmanstuk Sê groete vir ma onder regie van Sandra Prinsloo wat Hannes landswyd vir uitverkoopte gehore gespeel het. Sy eerste eenmanstuk was ’n verwerking van Engemi Ferreira se Die jaar toe my ma begin sing het wat ook te sien was by die KKNK.
SKRYWER
In 2017 verskyn Hannes se eerste boek getiteld Vroue na my hart. Die boek is ’n viering van vrouens en vrouwees en Hannes se vriendskap met dié vroue.
Dit is ’n boek vol deernis, humor en wysheid wat enige vrou se hart sal verbly! Die boek is uitverkoop en nie meer in druk nie, maar Hannes oorweeg ’n audioboek vir belangstellendes.
Laat weet gerus as jy belang stel.
TOEKENNINGS
Onlangs was Hannes die enigste akteur en aanbieder in Suid- Afrika wat `n ‘driekuns’ behaal en sy veelsydigheid getoon het as akteur én aanbieder in Suid Afrika deur in drie uiteenlopende katagorieë benoem te word naamlik beste aanbieder, beste akteur in `n komedie (as oom Erhard in Magda Louw) en ook beste akteur in `n drama (Spoorloos). Daar was deur die jare ook baie toekennings as beste akteur en beste aanbieder.

